Kinderhuise (DPS-stelsel)
Die Kinderhuise van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
(Diakonale Pleegsorgstelsel)
Die missie (hoofdoel) van die kerk se kinderversorging is die versorging van sorgafhanklike kinders en hul ouers om ‘n stabiele gesinslewe na te strewe.
In hierdie verband is Die Ondersteuningsraad se maatskaplike werkers behulpsaam met die lewering van voorkomende-, terapeutiese- en nasorgdienste om gemelde hoofdoel te bereik. Hierdie dienswerk staan in die Kerk bekend as die DPS-stelsel (Diakonale Pleegsorgstelsel).
Die kind as inwoner
Daar is tans ses DPS-huise wat in onderskeie dorpe in ons land geleë is. Die DPS-huise bied veral die volgende uiters belangrike voordeel aan die kind wat daar versorg word:
- Die kind word sterk geïndividualiseer omdat hy een van ses kinders is en nie soos in die kinderhuis een van 150 nie.
- Die kind word deel van 'n gewone huis in die woonbuurt en hy het dus ook 'n gewone adres soos enige ander kind. Die sogenaamde stigma van 'n kinderhuis, verdwyn dus geheel en al.
- Die kind beleef weer dat hy "normaal" soos enige ander kind is want hy het weer 'n "pa en 'n ma" en hy is nie ingehok in 'n kinderhuisopset nie.
- Die kind beleef 'n groter vryheid deurdat hy soos enige ander kind makliker geleenthede gebied kan word om te gaan kuier, vriende te besoek en gesellighede by te woon. Dit opsigself is belangrik vir die kind om sy selfbeeld te help bou asook groter verantwoordelikheid vir homself te neem.
- Die kind kry in die DPS-huis veral ouerlike aanvaarding, ouerlike toegeneentheid, ouerlike liefde en ouerlike begrip wat vir die kind se ontwikkeling na volwassenheid uiters noodsaaklik is.
- In die DPS-huis waar minder kinders as in die kinderhuis is, kry die kind ook groter en deurlopend geleentheid om godsdienstige onderrig te ontvang en word hy inderdaad deur die ouers binne Skrifgefundeerde waardes en norme begelei.
- Die gesin is volledig ingeskakel by hul gemeente vir kerkbywoning, kategese ens.
Die DPS-stelsel word verder deur twee komitees bedien:
Toesigkomitee:
Die primêre doel van hierdie vergadering is om in die fisiese en dus materiële behoeftes van die kinders en die huise te voorsien. Vir dié doel is onderskeie Ringe by elke Toesigkomitee ingedeel wat deur diakens vanuit die Ring (waar moontlik) bygewoon word.
Evaluasiekomitee:
Die komitee is multi-professioneel saamgestel en evalueer voortdurend saam met die DPS-ouers elke kind se omstandighede.
Die primêre taak van hierdie komitees is:
- om geleenthede vir kinders se ontwikkeling te skep
- om sorg te dra dat die kind voel hy behoort
- om die kind doelgerig te laat opvoed
- om die kind tot selfverwesenliking en volwassenheid te begelei
- om toe te sien dat 'n ontspanne en akkommoderendegesinsatmosfeer in die DPS-huis heers
- om toe te sien dat die kind psigies-emosioneel goed funksioneer
- om psigometriese toetse en beradingsgeleenthede vir die kinders waar dit nodig is, te reël
- om die kind se skoolvordering te monitor
- om toe te sien dat daar 'n behandelingsprogram vir elke kind is en dat dit uitgevoer word
- om te verseker dat die kind se geestelike opvoeding sinvol geskied.
Trustfondse
Die Direksie het drie Trustfondse daargestel om kinders binne die DPS-stelsel te ondersteun asook kinders wat deur Die Ondersteuningsraad hanteer word en waar 'n behoefte is wat deur een van die Trustfondse bevredig kan word . Die Trustfondse is:
- Terapeutiese Trustfonds
- Pleegsorgondersteuningstrustfonds
- Noodlenigingstrustfonds
Slotopmerking
Hoewel die Kerk aanvanklik 'n "vreemde" model van versorging begin het, het die DPS-model hom in die praktyk deeglik bewys. Indien meer fondse beskikbaar sou wees, sal meer DPS-huise geopen word, want die behoefte is baie groter as wat tans daarin voorsien kan word.
Kontak Kinderversorging by:
Bestuurder: Otto Viljoen
Epos adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Selfoon nr: 079 495 2007
Sekretaresse: Sonet Esterhuizen
Epos adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Kantoor tel nr: 012 322 8885 x 221