Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

Donasies

As jy die inligting op hierdie blad waardevol gevind het, maak asseblief 'n bydrae vir barmhartigheid.

SMS "ADV + jou naam" na 40156 om R20 te skenk (bv ADV Naam Van)

Jy kan ook 'n aanlyndonasie maak deur enige bedrag hieronder in te sleutel en te klik op 'Skenk':


Ons maak van MonsterPay gebruik vir aanlyndonasies. Kliek hier vir meer inligting.

Maatskaplike behoeftes van bejaardes

Vir een en almal is oud word en die aanpassing by die werklikhede van bejaardheid 'n bron van nuwe probleme en uitdagings. Volgens die Wet op Ouer Persone (nr 13 van 2006) word 'n "ouer persoon" gedefinieer as 'n persoon wat, in die geval van 'n man, 65 jaar oud of ouer is, en, in die geval van 'n vrou, 60 jaar oud of ouer is. Navorsing dui daarop dat ons in 'n tyd lewe waar mense se lewensverwagting al hoe hoër word. 'n Verdere probleem lê daarin dat die gesindheid teenoor bejaardes in die samelewing dikwels negatief is en dat bejaardes nie as belangrik geag word nie.

Veranderings

Ouerwording by die mens gaan noodwendig gepaard met liggaamlike en geestesverswakking en dit is belangrik dat hierdie aspek prioriteitsaandag geniet tydens beplanning vir aftrede. Die ouer persoon se liggaam word om verskeie redes afgetakel. Die samelewing lê egter geweldig klem op die uiterlike en so word ouer persone se eiewaarde en gevoel van geborgenheid beïnvloed wanneer hulle uiterlike voorkoms begin versleg. Dikwels lei dit daartoe dat hulle ook nie meer die nodige aandag kan gee aan hulle voorkoms nie, en word die gedagte dat hulle oud en afgeleef is net versterk. Die sensoriese veranderings wat in die liggaam plaasvind gebeur nie oornag nie, maar dit veroorsaak wel probleme in die persoon se vermoë om oor die weg te kom en vrylik te kom en gaan. Die fisiese agteruitgang kan ook lei na ipekonders wat veroorsaak dat die persone later nie meer ernstig opgeneem word wanneer hulle fisiese klagtes het nie. Huweliksprobleme begin ook dikwels kop uitsteek wanneer daar seksuele veranderings plaasvind en die persone hulle begin distansieer van hulle huweliksmaat. Die fisiese nabyheid van die ander persoon is steeds belangrik, en word 'n groot probleem wanneer hulle dan hulself van hulle huweliksmaat onttrek.

Verlies

Deel van die ouerwordende persoon se lewe is verskeie vorme van verlies wat hanteer moet word. Vir die persoon wat jare lank in die arbeidsmark gestaan het, kan dit traumaties wees om uit diens te tree en gevoelens van waardeloosheid kan ontstaan. Gevoelens van verlies kan ook ervaar word wanneer die ouerwordende persoon na 'n kleiner woning verhuis. Ook wanneer die bejaarde sy/haar lewensmaat aan die dood moet afstaan kan dit gebeur dat hy/sy daarna verlore voel of nie oor die innerlike kragte beskik om hom- of haarself te handhaaf nie.

Maatskaplike perspektief

Daar is drie kernsake wat in oënskou geneem moet word wanneer ons die maatskaplike perspektief van bejaardesorg ondersoek:

1. Uitbuiting en mishandeling van bejaardes

Soos bejaardes verswak is hulle nie meer fisies in staat om hulleself te verdedig nie en vanweë die realiteit dat hulle dikwels nie meer goed hoor of sien nie, staan hulle ook weerloos teenoor ander vorms van misbruik. Wanneer daar geestelike, fisiese of finansiële mishandeling van bejaardes plaasvind,is hulle nie altyd in staat om hulleself te verdedig of die saak aan te meld nie. Mishandeling en uitbuiting van bejaardes vind nie net plaas in hulle eie huise nie, maar ook waar hulle versorg word of soms in huise van hulle naasbestaandes. Die hartseer is selfs groter wanneer kinders of ander afhanklikes diegene is wat vir die mishandeling verantwoordelik is, en ook diegene waarvan die bejaarde afhanklik is. Mishandeling en uitbuiting vind gewoonlik plaas deur iemand wat nie omgee nie of 'n oorwerkte versorger. Daar is verskillende vorms van bejaardemishandeling:

  • Fisiese mishandeling: Hierdie vorm van mishandeling lei gewoonlik na pyn, beserings of verswakking. Dit hoef nie noodwendig te dui op fisieke letsels nie, maar sluuit ook die wantoediening van medikasie; inperking en opsluiting van die bejaarde in.
  • Emosionele mishandeling: Daar is verskillende vorms van emosionele mishandeling. Die eerste is verbaal en sluit intimidasie deur skree of dreig in, om die bejaarde te blameer vir alles, en om die bejaarde te spot of verkleineer. Nie-verbale emosionele mishandeling vind plaas wanneer die bejaarde geïgnoreer word, doelbewus van ander geïsoleer word of terrorisering plaasvind.
  • Seksuele mishandeling: Dit werk op dieselfde prinsiep as seksuele mishandeling by kinders en volwassenes.
  • Verwaarlosing: Dit is interessant dat meer as die helfte van mishandelingsake wat aangemeld word, met verwaarlosing te make het. Dit kan doelbewus geskied dat die bejaarde net aan sy/haar eie genade oorgelaat word, maar vind ook plaas wanneer die versorger onbewus is van al die behoeftes van die bejaarde of die ware agteruitgang van die bejaarde ontken.
  • Finansiële uitbuiting: Dit vind plaas wanneer die bejaarde se krediet/debietkaarte of rekenings doelbewus wangebruik word. Dit behels ook die steel van kontant in die huis of van huishoudelike goedere. Dikwels word die bejaarde se handtekening vervals en word pensioene en ander voordele namens hulle ontvang.
  • Skelmstreke: Bejaardes word maklik in skelmstreke gevang. Van die bekendste sake is sogenaamde beleggingsgeleenthede of die wen van 'n sogenaamde prys waarvoor die bejaarde eers 'n bedrag moet inbetaal voor hy/sy dit kan ontvang.

1.2 Simptome van mishandeling of uitbuiting

Dit mag aanvanklik voorkom of die simptome van mishadeling of uitbuiting ooreenstem met die broosheid van ouderdom of demensie.

Algemene simptome kan gereelde argumente tussen die bejaardes en hul versorgers wees of skielike persoonlikheids- of gedragsverandering by die bejaardes. Wat meer spesifieke simptome betref, kan op die volgende gelet word:

  • Fisieke simptome

o Onverklaarbare tekens van beserings soos kneusmerke, snye, wonde

o Gebreekte of gekraakte bene

o Oormatige medikasie wat toegedien word

o Gebreekte brille/rame

o Tekens dat die bejaarde vasgebind was

o Die versorger wil nie hê jy moet die bejaarde alleen sien nie.

  • Emosionele simptome

o Bedreigings of beledigings wat aan die bejaarde toegesê word

o Vreemde gedrag soos wieg, praat met self.

  • Seksuele simptome

o Skielike infeksies wat onverklaarbaar is

o Vuil onderklere

o Kneusmerke.

  • Verwaarlosing

o Gewigsverlies/wanvoeding/dehidrasie

o Bedsere wat nie behandel word nie

o Vuil leefomstandighede

o Bejaarde word nie gereeld gebad nie

o Verkeerde kleredrag vir die seisoen, bv te koud vir die winter aangetrek.

  • Finansieel

o Onttrekkings uit bankrekening

o Skielike verandering in die finansiële situasie

o Huishoudelike items of geld raak weg

o Verdagte verandering in testament of polisse

o Onbetaalde rekeninge, al het die bejaarde voldoende fondse tot sy of haar beskikking

o OTM onttrekkings as die bejaarde nie self 'n OTM gebruik nie

o Onnodige aankope of subskripsies.

Daar is verskeie organisasies waarby om hulp aangeklop kan word indien daar vermoed word dat 'n bejaarde mishandel of uitgebuit word. Die belangrikste is om ten minste die saak by iemand aan te meld sodat dit sou gou as moontlik hanteer kan word.

2. Sekuriteit en die bejaarde

Die sekuriteit van die bejaarde behels meer as net die veiligheid van bejaardes in die geval van misdaad, dit behels ook voorkoming van moontlike beserings. Baie beserings vind plaas in primêre areas van die huis: die slaapkamer; badkamer en gang. Dit is belangrik om na alle areas te kyk en die risikofaktore te elimineer wat kan bydra tot die val van die bejaarde; die beweeglikheid van die bejaarde beperk of beperkte toegang veroorsaak tot sekere terreine. Hierdie sekuriteitaspekte sluit nou aan by die derde aspek, naamlik wat moet vooraf gedoen word wanneer bejaardes by hulle kinders of elders sou gaan woon. Dit is dan veral belangrik om ook aan hierdie die volgende aspekte aandag te gee.

  • Vloere

o Daar moet verkieslik nie enige los drade, papiere of klere rondlê nie

o Indien die bejaarde skuifel of van 'n loopraam gebruik maak, kan beweeglikheid bevorder word deur die drumpels tussen kamers te verwyder

o Dit is makliker as die oppervlakte konstant bly. Bejaardes sien moeiliker wanneer die vloer na mat verander of na 'n ander soort teël, en dit kan hulle maklik laat struikel

o Plak los matte vas sodat dit nie kan gly nie

o Indien vloere gepolitoer word, moet daar nie sokkies gedra word wat maklik gly nie. Daar moet eerder matte wat nie kan gly nie, bo-oor gegooi word of die bejaarde moet pantoffels met goeie sole dra.

  • Beligting

o Vermy lae beligting. Dit dra by tot depressie en kan die bejaarde makliker laat val

o Nagligte is sinvol, veral in die gang of vanaf die slaapkamer na die badkamer.

  • Badkamer

o Laat relings aanbring in die stort, bad en naby die toilet sodat die bejaarde daaraan kan vashou. Maak ook seker dat daar 'n rubber bekleedsel in die bad is wat nie maklik kan gly nie

o Hou die bejaarde se lengte in ag wanneer relings opgesit word.

  • Algemene veiligheid

o Noodnommers moet byderhand en sigbaar wees

o 'n Draagbare telefoon of selfoon (verkieslik aan hul sy) indien hulle hulp moet ontbied

o Deure en vensters moet te alle tye gesluit wees en nie oopgelaat word nie

o Geen spaarsleutels moet êrens weggesteek word of buite, naby 'n oop venster of ander bereikbare plek van buite af gehou word nie

o Vra vir identifikasie

o Moenie persoonlike inligting gee nie.

3. Wat moet gedoen word indien bejaarde by kinders kom woon?

Gewoonlik is nie die bejaarde of hulle kinders voorbereid op wat wag wanneer die bejaarde daar kom intrek nie. Die diskrepansie tussen wat die bejaarde/familie verwag en die werklikheid is dikwels so groot dat die werklikheid omsit in frustrasie en teleurstelling. Dit is belangrik dat hulle met mekaar sal kommunikeer en sal weet wat deur die kinders oorgeneem moet word en wat in die bejaarde se beheer moet bly. Dit bly belangrik dat die gesin steeds hulle eie lewens, werk en sosiale belange balanseer.

Dit is van die uiterste belang dat al die lewenstylveranderinge, rolverskille en ander veranderings in ag geneem word voor die bejaarde by die gesin intrek. Die volgende sake moet oorweeg word:

  • Emosionele kwessies

Die verhouding wat tussen die bejaarde en sy of haar kinders bestaan moet eerstens in oënskou geneem word. Dit sal bepaal of daar wel saam in een huishouding geleef kan word. Die kinders wat verantwoordelik is vir die bejaarde se sorg, kla dikwels van 'n tekort aan tyd, moegheid en te veel ekstra verantwoordelikhede. Indien die volgende sake vooraf bespreek word, kan die emosionele uitdagings suksesvol hanteer word:

o Is die hele huisgesin betrokke in die besluit van die bejaarde se inwoning?

o Sal ander familielede soms kan deel in die versorging van die bejaarde?

o Verstaan veral die kinders die implikasies van die bejaarde in die huis?

o Is die verhouding tussen bejaarde en kinders oop en eerlik?

o Kon probleme tussen die geslagte in die verlede opgelos word?

o Is daar enige onopgeloste kwessies wat eers aandag moet geniet?

  • Huislike aspekte

Die kwessies wat hier ter sake is, is watter aanpassings gemaak moet word voor die bejaarde sy of haar intrek kan neem en behels ook die sekuriteit soos reeds in punt 2 bespreek.

o Is daar voldoende spasie dat almal gemaklik is?

o Is daar veranderinge nodig aangaande beweeglikheid of 'n liggaamsgebrek?

o Is daar voldoende privaatheid vir die huisgesin as geheel?

o Wat is die gevaarsones in die huis wat die bejaarde eerder moet vermy en waar kan die bejaarde veilig wees?

o Watter bystand is nodig in die dag indien die familie nie self daar kan wees nie en die bejaarde hulp nodig het, bv verpleegster of versorger?

o Wat sou gebeur indien die bejaarde later permanente hulp sou benodig?

  • Finansies

Dit is sensitiewe saak en moet ook as sodanig hanteer word.

o Aftrekorders kan die kinders tyd en moeite spaar

o Aanbiedinge vir afslag en spesiale pensionaristariewe moet ondersoek word

o Verantwoordelikheid moet geneem word vir nuwe uitgawes wat moontlik mag ontstaan.

  • Verhoudings

Die mens is 'n sosiale wese by wie die drang en behoefte aanwesig is om in verhouding met ander persone te leef. Om voldoende as mens te funksioneer het ons mense nodig om mee te sosialiseer en idees mee uit te ruil. Ander mense is vir ons 'n uitdaging, hulle moedig ons aan, hou ons in aanraking met die werklikheid en maak dit vir ons moontlik om te voel ons beteken nog iets. Die bejaarde het steeds behoefte om as individu erken te word en om te voel dat sy opinies en gevoelens respekteer word. Verstandelike en liggaamlike agteruitgang is genoeg om die bejaarde in homself te laat twyfel, en hierdie twyfel kan tot gevolg hê dat hy of sy onttrek. Gereelde skakeling en erkenning deur nie net tydgenote nie, maar ook met ander lede van die gemeenskap en veral kinders van bejaardes, kan 'n onskatbare rol speel in die gesonde funksionering van die ouer wordende persoon. Sosiale isolasie is soos 'n kanker wat die lewenskwaliteit van bejaardes kan wegvreet. Die bejaarde wat by hul kinders gaan woon, loop die gevaar om weer soos 'n kind in die huis behandel te word en moet by die kinders se reëls en omstandighede inskakel. Dit is ook vir die kinders in die huishouding 'n aanpassing aangesien die normale balans versteur word.

o Almal in die gesin moet almal voorbereid wees op die rolle wat gaan verander

o Die bejaarde gaan nie altyd gemaklik inval met 'n nuwe reëling nie.

  • Aktiwiteite

o Kan die bejaardes nog hulle eie belangstellings navolg?

o Kan die kinders hulle vervoer na aktiwiteite indien nodig?

o Kan die kinders ook aangaan met hulle eie aktiwiteite?

Slot

Dit is belangrik vir die persoon wat na die bejaarde omsien om selfrespek aan die dag te lê en hulle ondersteuningstelsel in plek te hê en te gebruik. Maar ook is dit van belang om die bejaarde te versorg. Hulle is 'n nasionale en persoonlike bate, en verdien om erken en waardeer te word. In die geval waar kinders hulle ouers versorg, moet onthou word dat die ouer 'n groot deel van hul lewe toegewy was aan die kinders. Geen bejaarde moet ooit voel asof hulle 'n las is nie.

Nuus

Warm Brood

Scan die QR kode vir meer inligting met jou slimfoon rakende die Simposium oor Trauma

qr ubi caritas

Login With Facebook

Soek