Gesin: Aanneming

Gesin: Aanneming

Oordenking: Galasiërs 4:4-5


Van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word…  jy is nou ‘n kind van God.”

        

Aanneming is vir altyd. Dit is die titel van ‘n boek wat ons aangeskaf het destyds toe ons twee kinders aangeneem het. Die boek was bedoel vir sowel ons as ons twee aangenome kinders, want dit is vir ons baie spesiaal.

Ons het Bertie en Christien in Pleegsorg gehad en toe aangeneem. Ons het nou 6 eie kinders. Christien kry op Laerskool ‘n ander dogtertjie aan’t huil, want ander kinders het haar gespot omdat sy aangeneem was.

“Maar ek is ook aangeneem en ek is trots daarop! Kom saam!” En daar gaan trap sy die ander uit en sê onder meer: “My ouers wou my gehad het, maar julle ouers het nie ‘n keuse gehad nie! Ek het nie in my Ma se maag gegroei nie, maar in haar hart!”

Twee boeties is in dieselfde jaar graad een toe, maar het net ‘n paar maande verskil en die een se Juffrou vra hom toe daaroor. “O, ja, Juffrou, een van ons is aangeneem, maar… ek kan nie onthou watter een dit is nie.” Wat ‘n getuienis vir ouerliefde wat nie onderskei nie!

Ver die meeste van die tyd is dit die geval. Aangeneem of nie, dis jou eie kind, vir altyd. Aangenome kinders kom dit agter, hoewel hulle soms vrae vra oor hul “eie” bloedouers en dan twyfel. Dan moet ons net bly dieselfde liefde en begrip gee en hulle sal altyd ons kinders bly.


Ds Dirk Stoltz

Emeritus