Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

Donasies

As jy die inligting op hierdie blad waardevol gevind het, maak asseblief 'n bydrae vir barmhartigheid.

SMS "ADV + jou naam" na 40156 om R20 te skenk (bv ADV Naam Van)

Jy kan ook 'n aanlyndonasie maak deur enige bedrag hieronder in te sleutel en te klik op 'Skenk':


Ons maak van MonsterPay gebruik vir aanlyndonasies. Kliek hier vir meer inligting.

Dood van 'n kind

Dood van 'n kind

Oordenking: Job 2:11-13

  

 

“Wat sê ek vir hulle?”

 

 

 

“Drie van Job se vriende het verneem van al die rampe wat hom oorgekom het.  Hulle het elkeen uit sy plek gekom....en afgespreek om deelneming met hom te betuig en te troos.  Toe hulle hom sien het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi.  Sewe dae lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om ‘n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is”

 

Baie van ons worstel met die vraag:  “Wat sê ek?”  En omdat ek nie weet wat om te sê bly ek sommer maar weg of dink sommer onbeholpe ligte troosrympies uit.

 

Wat sê ek?  Weet u daardie persoon met sy seer verwag nie dat jy baie sal sê nie, dalk omdat hulle weet daar is nie antwoorde nie.  Inteendeel daardie mens het net ‘n groot behoefte dat jy daar sal wees.  Dat jy hulle nie vermy omdat jy nie weet wat om te sê nie.  Job se vriende het die moed gehad om te gaan en om te gaan meelewing betuig.  Daarom… gaan net en wees daar.  Ja, ‘n SMS en gereelde telefoonoproep word baie waardeer maar jou daar wees getuig van ware omgee.  Job se vriende was daar.  Hulle het gegaan.  Onthou die verjaarsdae, herdenkings en sterfdatum.  Dis erg as mense nie meer onthou nie.

 

Deel maar ook hulle seer maar op ‘n egte manier.  Jy mag maar saam huil.  Daardie trane van jou het dalk groter salf as wat jy besef.  Jy hoef nie sterk te wees en al die antwoorde te probeer gee nie.  Ons sien hoe Job se vriende saam met hom in die stof gaan sit het.  Daarom spreek dade dikwels baie harder as woorde en waardeer ons wat seer het omdat ons kinders verloor het jou handdruk of opregte vol arm omhelsing baie meer as ‘n klomp woorde.

 

Maak tyd en moenie haastig wees nie.  Job se vriende het sewe dae by hom gebly.  Ek weet ons het nie soveel tyd nie maar weet jy as jy regtig wil troos maak tyd om rustig daar te wees.  Al het jy net ‘n paar minute, gebruik dit vir opregte meelewing.  Hoe haastiger jy lyk kan dit maklik vertolk word dat jy nie regtig saamvoel en dat dit maar net goedbedoelde pligpleging is.  Sit rustig, drink tee en luister.  Dit is medisyne vir die seer!

 

Maar wat sê ek???

 

Ons is so bang vir die ongemak van stiltes.  Ek weet nie hoe sy vriende dit reggekry het om vir sewe dae niks te sê nie.  Tog weet ek dat Job geweet het hulle gee regtig om en hulle voel saam met hom.  En ek dink daar het twee belangrike dinge gebeur:  Eerstens het dit aan hom geleentheid  gegee om te praat.  Hy kon sê.  Hy kon huil en veg met God.  En hulle het geluister en gewag en geluister.  Ons wil graag oor ons kinders praat.. nog meer as hulle nie meer daar is nie.  As jy daar is en luister en ons kan maar net weer vertel gee dit vir ons soveel troos.  Meer as wat jy iets probeer sê.  Soms maak dit ons juis ongemaklik veral as die tyd aanstap en ons voel hulle behoort nou al oor dit te kom.  Dis nie so nie.  Ons wil steeds oor ons kinders praat al is hulle al ‘n tydjie weg.

 

Die tweede ding wat gebeur as jy stilbly en net saamvoel is:  Soms maak die antwoorde net nie vir ‘n mens sin wat mense goedbedoeld probeer gee nie.  Ek sou beslis die mooiste roos nog in my blomtuin wou gehad het en ek het nog so baie drome vir my kind gehad dat ek nie verstaan dat sy werk op aarde klaar is nie.  Hoewel dit wat ons dikwels sê waar is maak dit vir iemand net nie sin nie.  Inteendeel, soms maak dit mens net meer opstandig want wat van ons gemis en ons verlange en ons seer?  Goedbedoelde antwoorde wat nie sin maak laat mens dikwels voel: “hulle verstaan nie regtig nie.”

 

Ten slotte:  Wat sê ek?

So min as moontlik.  Wees net daar.  Deel die seer en gee jouself en jou tyd.  Wees eg en gee hulle wat seer het en verlang jou troosvolle stilte wat hulle kans gee om af te laai.  Dan sal jy ervaar hoe God ook mense gebruik wat kan stil wees.  Sterkte daarmee!


Ds Wimpie Jordt

NG Kerk Koedoesrand

(Ds Wimpie Jordt se seun Heinrich is op 10 November 2000, op elf-jarige ouderdom, oorlede in 'n frats-skietongeluk.)




Nuus

Warm Brood

Scan die QR kode vir meer inligting met jou slimfoon rakende die Simposium oor Trauma

qr ubi caritas

Login With Facebook

Soek