Armoede en nood - wees soos die barmhartige Samaritaan (1)

Hoe kan ek my naaste help om los te kom uit sy nood?

 

Tyd, tyd, tyd…

Ek het nie tyd om dit of dat te doen nie en veral as dit kom by die hulp wat ek aan my naaste kan gee, dan is ek net te besig. Raak stil voor God, keer in jouself en vra vir jouself die vraag wat gaan gebeur as ek in dieselfde posisie beland. Gaan mense hulle koppe wegdraai as ek met ʼn bak hand staan? “Die Here en hulle wat naby my was, het voorsien toe dit nie goed gegaan het met my nie en die bietjie wat ek terug gee is maar ʼn druppel in die emmer.” Dit is woorde van iemand wat deur hierdie swaar tyd in sy lewe moes stap.

Plekke waar ek kan help is eerstens by mense wat naby my lewe. Daarna kan ek hulp aanbied binne my wyk, binne my gemeente. As daar nie hulp nodig is nie kan ek hulp aanbied buite my gemeente en binne die gemeenskap. Indien daar nie hulp nodig is nie kan ek hulp aanbied buite die gemeenskap of te wel ander dorpe en stede.

Wat baie belangrik is as ek mense wil help wie nood het, is om met mense te werk en nie vir mense te werk nie. Die verskil tussen die twee woorde is:

 

  • Om vir mense te werk beteken jy gee maar net kos, klere en goedere vir mense wat swaar kry en jy weet nie regtig wat nodig is nie.
  • Om met mense te werk gee ʼn ander betekenis en perspektief aan die woord en dit is wanneer jy soos die Samaritaan gaan kniel langs die persoon wat platgeslaan is om sy wonde te versorg, hom op jou rydier te help, langs hom te stap en met hom te praat oor sy belewing van dit wat met hom gebeur het. Dit is om hom te neem tot by die herberg en daar vir die herbergier te vra om hierdie persoon verder te versorg en ook om te betaal vir die tydperk wat hy moet aansterk. Dit is om ook die pad verder te loop deur aan die herbergier te sê “As ek terugkom van my reis af sal ek  kom betaal wat nodig was om die pasiënt te versorg.”

Gee kos en klere wat ʼn onmiddellike behoefte is. Daarna  eers kan ek begin met die werklike hulp wat ek moet gee!!!!

Om met mense te werk wat nood het beteken dat ek my vergewis van dit waarmee hierdie mens/e stoei en nie uit die probleem kan loskom nie. Ek gaan sit met die mense in hulle blyplek en evalueer elke ding wat ʼn struikelblok vir hom of haar mag wees. Ek vind alles uit oor die pa, ma, kinders of enkel persoon, waar hulle werk en of hulle nie werk het nie. Alles oor die ma – hoekom sy platgeval het. Ek vra die kinders uit oor skoolgaan en wat hulle graag wil hê. Eers dan het ek die wonde begin skoonmaak.

In my volgende skrywes sal ek die volgende dinge aanraak waarmee ons kan help:

 

  • Verbind die wonde
  • Laai die persoon/e op my voertuig
  • Oorhandig hom/haar/hulle aan die herbergier
  • Kom terug en kyk of die persoon genees is van al sy wonde

 

 

Met dank aan:

Diaken Hans Janse van Rensburg

Projek Armoede, ADV