Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

“Oumense” met “jongmens-woema!” Mei 2016

“Oumense” met “jongmense-woema!”

Hetta Neethling sê in haar eie woorde:  “Ek is lief vir die Here en ek is lief vir mense”.  En haar leuse is:

 “Die lewe is nóú, hierdie oomblik”

Tannie Hetta’n Beter beskrywing is daar kwalik vir tannie Hetta Neetling.  Sy is 80 jaar oud en is ’n inwoner van Ons Eie – Ouetehuis van die SAVF in Delmas.  Ek het tannie Hetta baie jare gelede leer ken, toe sy nog die bibliotekaresse vir ons dorp se biblioteek was.  Sy was die tannie waarheen al die kinders in die dorp gehardloop het, as daar ’n taak by die skool was, want tannie Hetta het presies geweet waar om die beste inligting vir elke kind en vir elke taak uit te grawe!  Vir die grootmense kon sy onmiddelik van elke nuwe vrystelling vertel en kon sy jou dadelik vertel of dit ’n goeie boek was of nie.  Sy sê haar beroep as bibliotekaresse was vir haar vervullend en stimulerend.

Tannie Hetta vertel met groot dankbaarheid van haar tyd wat sy ook by die Wenakkersentrum vir psigies gestremdes, te Lydenburg, gewerk het.  Sy sê dáár het sy werklik geleer om haar seëninge te te tel en dat alles louter genade is.

Maar toe beland tannie Hetta op 79 jaar oud by Ons Eie – maar o liewe aarde, tog net nie om te kom “aftree” of rondsit en niksdoen nie.  Sy het haarself onmiddelik beskikbaar gestel om van hulp te wees met enige takie wat die personeel haar wou gee of waar sy nodig sou wees om te dien.

En skielik is tannie Hetta onmisbaar in Ons Eie.  Sy dra ’n glasie water aan, sy help iemand uit die bed uit of in die rolstoel in.  Sy benut die geleentheid om in die siekeafdeling Godsdiens te hou vir die inwoners.  Sy gaan sit sommer iewers by iemand vir ’n geselsie.  Sy gee aan of sy dra aan – en sy gee ’n oor om te luister waar eensaamheid roep.  “Om iemand anders se oë, bene, ore en hande te wees, is ’n suiwere voorreg” – aldus tannie Hetta.  Sy behartig ook die biblioteek van Ons Eie – hoe dan nou anders!

Maar saans, as almal bed toe gaan, om lekker te gaan lê en lees, ’n soete nagrus te geniet of om sommer te gaan wakker lê, begin tannie Hetta se belangrikste werk.  Wanneer almal versorg en rustig in hulle beddens is,  help sy van die personeel, wat hulp nodig het om verder te studeer of om hulle matriek te slaag, met hulle studies.  Sy glo dat daar ’n beter toekoms vir elke mens is, met beter skolastiese kwalifikasies. Sy leen voorgeskrewe boeke en soms studiemateriaal by Hoërskool Delmas, bestudeer die werk en help dan diegene wat ekstra hulp nodig het met toetse en eksamens.

Werklik ’n merkwaardige vrou en ’n voorbeeld vir een en elkeen van ons.

Tannie Hetta sê:  Ek het ’n wonderlike bediening in Ons Eie gekry en doen dit uit dankbaarheid vir my goeie gesondheid en liggaamskragte wat dit nog toelaat.

Mens kan maar net weer herhaal waarmee tannie Hetta begin het:agb-logo-met-teks.png

“Ek is lief vir die Here en ek is lief vir mense”.

“Die lewe is nóú, hierdie oomblik”

En ek wil graag byvoeg:  “Tannie Hetta is ’n goeie voorbeeld daarvan, dat daar géén ouderdomsbeperking is om van diens te wees nie!”

Elmien Botha

Login With Facebook