Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

Wie is Mariaan Beukes? - April 2016

Wie is Mariaan Beukes?Mariaan en dogter

Mariaan Beukes is ‘n predikant van die Hervormde Kerk wat haar werk, haar ouderdom, haar kinders, huis en troeteldiere geniet. Sy lag graag en soek altyd die ligte kant in donker dinge. Sy gaan deur die lewe met ‘n heerlike sin vir humor, terwyl die werk wat sy doen baie ernstig is.

Mariaan en haar dogter Anlia

Mariaan is een van die min predikante wat kans sien om tronkbediening te doen. Sy werk Maandag tot Donderdag lang ure by ‘n groot apteek in Fourways, sodat sy Vrydae af kan hê om by ‘n gevangenis te kan werk. Dan is sy boonop predikant van die piepklein gemeente van Stoffberg in Mpumalanga.

Mariaan vertel dat sy in graad twee besluit het om ‘n dominee te word. Sy het een wintersoggend na ‘n preek geluister van Jakob en die engele, en toe moes sy eenvoudig uitvind hoe díé storie werk! Ten spyte van haar pa se kommentaar dat dogtertjies nie predikante kan word nie, is sy sestien jaar later georden. Sy het haar eerste “preek” op agt jaar geskryf, toe sy in ‘n briefie vir haar sterwende pa geskryf het dat hy alleen sal gesond word as dit God se wil is en nie sy gesin of die dokters s’n nie. Mariaan glo dat as God die kwaad nie afweer nie, Hy dit ten goede laat meewerk. Vandag woon sy in die huis in Edenvale waar sy leer loop het en dit is vir haar ‘n wonderlike ervaring om op hierdie manier terug te keer na haar wortels toe en soveel van haar pa weer te ontdek in die ou huis.

Ek het gewonder hoe Mariaan betrokke geraak het by die bediening in die vrouegevangenis. Sy vertel: In die hitte van die Oscar Pistorius saak is sy dikwels gekonfronteer met opmerkings soos: “Sy suster moet dood sodat hy dit kan voel.” Sy het dit beleef as ‘n arrogansie om god te probeer speel. Sy het hieroor begin eet, slaap en drink, begin praat en preek. Wie is mense om te probeer god speel? Haar gemeente, Stoffberg, was in ‘n proses van identiteit bepaling en dus gereed om ‘n verskil in die wêreld te maak. Tog was betrokkenheid by gevangenisse baie ekstreem. Jy kan onder geen omstandighede besluit wie jy help, groet, vashou en beslis voor bid, nie. In November 2014 was hulle tronkbekend, INVEST MY FUTURE is gestig en van daar het die bediening in gevangenisse van krag tot krag gegaan.

Mariaan se tronkbediening pas haar soos ‘n handskoen omdat dit vir haar ‘n groot passie is om te probeer waarde toevoeg aan mense se lewens en hulle ‘n sin van selfwaarde te gee. Mense wat agter tralies sit word dikwels as melaats beskou. Maar sy beskou hulle as iemand wat nou ‘n kans gekry het in die lewe. Dit kan dalk hulle laaste kans wees, maar sy begelei hulle om die beste daarvan te maak.

 

  • GevangenisBethal

Bethal gevangenis

Sy werk met veral vroue-oortreders. Van vroue wat mindere misdaad gepleeg het, tot moordenaars en vroue wat hulle eie kinders verkrag het. Dit bly vir haar moeilik om te verstaan en is ‘n swaar klip op die hart. Maar Mariaan besef, soos in een spesifieke geval, dat sy die eerste en enigste vrou is wat ooit vir hierdie gevangene omgegee het. Sy kyk anders na waar mense vandaan kom, en word kwaad vir mense wat op ander neersien, of wat genot vind in ander se lyding. Sy probeer om haar mense agter tralies te begelei om hoop vir die toekoms te kry.

Mariaan wil graag meer  verdraagsaamheid onder mense sien. Sy sal ook graag beter omstandighede in tronke wil sien. As jy nog nie op ‘n selbed gelê het of ‘n badkamer in ‘n gevangenis gebruik het nie, kan jy nie oor tronke praat nie. Hier is waar Mariaan met die vrouens kuier, in hulle leefwêreld, en dit stroop jou van alles wat menswaardig is. As hulle met menswaardigheid hanteer kan word, gaan dit rehabilitasie soveel makliker maak. Babas in tronke bly vir haar altyd ‘n hartseer gesig.

Korrupsie in die tronke maak haar moedeloos. Sy sê sy werk nou nie juis met engele nie, maar hulle het beslis nie ook nog daagliks hulp nodig nie!

Die enigste sport wat Mariaan beoefen is Pinterest. In haar vrye tyd probeer sy stil wees. Sy doen pewter-werk, lees graag en het begin kwilt. Dit kwiltwerk pas nog in ‘n roomysbak, maar sy is nie bekommerd nie, want sy het lewenslank(!) om dit te voltooi.

Haar twee kinders, Anlia en Barend, is haar groot liefde en haar troeteldiere, of soos sy laggend na hulle verwys as haar BEE-groepie (een swart en een wit hond, en ‘n swart, ‘n wit en ‘n grys kat), gee haar daagliks vreugde. Hulle gee ook soms vir haar ‘n geskenkie in die vorm van ‘n muis...

Negatiewe mense is ‘n groot nee vir Mariaan. Sy glo aan lag, want as jy nie lag nie sal jy huil. Dit is hoe sy met haar mense in die tronk werk. Hulle lag saam, werk en leer saam. Sy wil ook hê mense moet ophou om die wêreld met geweld te probeer verander. Geweld skep geweld. Liefde bring liefde. Jesus het dit immers vir ons kom leer.

Haar persoonlike geloofsbelydenis is Gesang 292: My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus behoort. Sy wil hê daar moet eenvoudig op haar grafsteen staan: Mariaan het **  jaar onwrikbaar in God geglo. Haar lewe het nou begin.

Elize Jones

 

  • Lees meer van INVEST MY FUTURE in komende uitgawes van die Omgee-in-Aksie. Om in te teken gaan hiernatoe.
Login With Facebook