Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

'n Persoonlike vertelling deur die voorsitter

Straatmense: van gesigte tot name. ʼn  Persoonlike vertelling

Op 7 Februarie was ek die 4x4 se bestuurder en die een wat  uitgekyk het vir die aggressie en opstandiges. Die een met die pakkie sigarette om ʼn geselsie aan te knoop.

Vir my was dit nie so ʼn belewenis soos vir iemand wat nie gereeld met die mense kontak het nie. Vir baie jare het ek saam en met mense gewerk wat op straat staan en werk soek, en in ʼn sekere sin het dit my verhard. Die ou storie van aan die eenkant die “baas” wat iemand langs die pad oplaai en volgens my sy volgende maaltyd op die tafel sit, aan die ander kant iemand wat die geleentheid “misbruik” om alles en meer uit my te kry.

Ja die twee jong manne by Steadlaan het my meer geraak as die ander. Ek sal maklik een van hulle gaan haal en ʼn geleentheid bied om weer sy voete te vind en sy eie besigheid te vestig. Maar weereens dié vrae om te vra? Gaan hulle die deursettings vermoë hê want dit vat tussen 3 tot 5 jaar om ʼn besigheid te vestig? Gaan hulle my nie teleurstel as daar ʼn vrou of voorspoed of vriende of wat ook al tot die pakkie toe gevoeg word nie? 

Ek het in 1985 met niks begin. R4000 in pensioengeld waarvoor ek amper 6 jaar gewerk het,  en ʼn trokkie wat gelap was. Daar was maande wat ek nie my water en ligte rekening kon betaal nie. In 1990 verloor ek alles en moes voor begin. (Water onderdeur die brug, maar  ek het geweet daar is ʼn kind en ʼn vrou om voor te sorg.)

Hoekom deel ek hierdie met julle? Om aan te toon dat ek oor deursettingsvermoë  beskik? Om te wys dat die seuns op straat nie kan vasbyt ten spyte van wat gebeur nie?  Om simpatie te kry?

Nee, ek dink dit is om alles in balans te sien of liewer  “perspektief” is die woord.

Ek het ’n ondersteuningstelsel gehad, ʼn gelowige getroue kerkganger-vrou. Op daardie stadium het ek gedink dat jy alles met werk kan reg maak. Ek het dae en nagte gewerk, insluitend Saterdag en Sondae. My eerste 8 jaar sonder vakansie, naweek af of selfs ʼn drankie. (Ek het fiets gery werk toe en terug.)

Toe ek in 1990 alles verloor (en die rede en omstandighede maak nie saak nie) moes ons onder andere verhuis. Ek het Ds. Leon Geel ontmoet en weer saam met my vrou en kind begin kerk toe gaan. Nie dat ek voor dit ongelowig was nie, ek het net baie op my self staat gemaak. God het egter gekom en my ʼn les geleer. “Jy bou nie die huis sonder MY nie”.

Nou kom ek weer terug na die mense op straat. Almal van hulle praat oor hulle geloof maar nie een kom in die kerk nie. Nie een van ons het hulle kerk toe genooi nie, seker was dit nie die regte tyd of omstandigheid nie. Ek dink eers na die tyd ons kon ten minste daar en dan vir hulle gebid het. Of dink ons  ʼn gebed vanaand voor ek gaan slaap is  genoeg vir hulle?

Ek weet hierdie woorde hierbo klink hard maar hoor ons dit waarvoor ons geroep is, die verkondiging van die Woord? Ons moet versigtig wees en nie verval in die emosie van hulpverlening nie en besef dat God ook vereis dat jy moet arbei, werk.

Ek weet nou dat hierdie mense ʼn ondersteuningstelsel nodig het en saam met die hulp aan hulle moet dit ʼn “vereiste” word dat ek/ons hulle gereeld saam neem na die samekoms van die gemeente (erediens).

Ek dink die vraag is, en hier lê die kruks van wat ek gesien en geleer het die dag: Is ons gereed om hulle te ontvang in die  gemeenskap van gelowiges, en indien nie, wanneer sal ons gereed wees? Het ons ʼn keuse? As ons armoede wil beveg/bekamp sal dit ons vertrek punt moet wees/word: Nooi hulle saam na die samekomste van die gemeente. En ja, dalk moet die samekomste (eredienste) anders ingekleur word.

Diak Andries Pretorius

Voorsitter: 6de ADV

Login With Facebook