Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

Straatmense - van gesigte tot name

Op Vrydag 7 Februarie het Gerhard Stoltz, Andries Pretorius en Charmaine Fourie, gewapen met videokamera en mikrofoon, Pretoria se strate ingevaar. Die missie wat gestel is: Om met mense wat ’n lewe op straat maak, onderhoude te voer en hulle stories te hoor. Later het Dirk Stoltz ook by ons groep aangesluit. ‘n Besluit is geneem om met ‘n 4x4 bakkie te ry, aangesien daar onsekerheid bestaan het oor of ons sou kon stop of parkeer of sypaadjies moes opklim om met die mense te gesels.

Aanvanklik het ons nie geweet wat om te verwag nie, maar het ons darem gehoop om genoeg videomateriaal te kry wat die moeite werd was. Die eerste persoon wat ons genader het het geweier om met ons te gesels en wou-wou ons moedeloos raak voordat ons regtig begin het. In ons elkeen se agterkop het die gedagte geknaag dat dit makliker sou wees om hierdie hele poging eerder te los – wie sê dat enigiemand met ons sal wil praat? Danksy mekaar se motivering, het ons ons gemaksones agtergelaat en deur gedruk.

“Danksy” – want dit wat ons beleef het die res van daardie dag, het ons diep getref.  Ten spyte van ons vrese het die mense toe hulle stories vertel:

Franklin het uit sy eie na ons toe aangestap gekom, en al wat hy wou doen, was om sy storie te vertel. Ons het gevoel hy is na ons gestuur! Sheryll het penne verkoop om geld te probeer verdien om net aan die lewe te kan bly en vir haar kind te kan sorg. Daar het Gerhard in Voortrekkerweg (nou Steve Biko) met die kamera tussen die bane karre ingegaan om haar af te neem terwyl sy by die verkeersligte motoriste genader het om hulle te versoek om penne by haar te koop. Gerhard het iets daarvan beleef as twee bane karre by hom verbyjaag om die verkeerslig groen te vang – hy moes net doodstil staan! By ’n boom langs die pad het ’n ander man bewusteloos onder ‘n boom gelê weens te veel drank wat sy waardigheid heeltemal vernietig het. Die mense in die omgewing ken hom en vertel graag hoe hy hom na drank gewend het toe hy op straat beland het; dat drank slegs ‘n manier is om van sy omstandighede te probeer vergeet.

Charlie is ’n man wat daagliks met eerste lig begin om herwinbare materiaal bymekaar te maak. Hy stuur die geld wat hy so verdien huis toe om vir sy kinders te sorg. Rudi het sy werk verloor en kon nie ander werk kry nie. Hy bedel nou al so 8 maande om te oorleef.

Wie ons die diepste getref het, was Johan. As kind wou sy ouers hom nooit gehad het nie, en hy is deur sy oupa en ouma grootgemaak.  Hy en sy vrou was in ’n ernstige motorongeluk waarin sy opslag gesterf het.  Hy was vir 11 maande in die hospitaal, en in hierdie tyd het sy besigheid ten gronde gegaan omdat hy geen ondersteuningstelsel gehad het om sy besigheid aan die gang te hou nie. Na sy ontslag en lang pad van rehabilitasie kon hy nie weer werk kry nie...hy bedel nou om sy dogtertjie van 20 maande te versorg en in die kleuterskool te hou. Hy is skaam oor wat hy doen, maar sy dryfkrag is die wete dat hy êrens geld moet kry om vir sy dogtertjie te sorg. Dit tref mens hard wanneer mens eers dink so iemand gaan drank of dwelms met die bedelgeld koop, maar dan uitvind hy gaan koop eerder babamelk en doeke...

Ja, daar is dié wat bedel om te drink soos André wat sê hy kan nie met homself saamleef as hy nie drink nie en dat dit die enigte ding is wat hom help om met sy omstandighede vrede te maak. Jerome was so ernstig onder die invloed van alkohol dat hy waarskynlik nie sal kan onthou dat Gerhard langs hom op die sypaadjie gesit en gesels het nie. Ashley nou weer, vra mense se vullis in hulle karre in ruil vir ’n rand of twee. Hy wil nie soos sy vriende in misdaad verval nie, en sê hy sal eerder doodgaan van die honger.

Ons het op daardie dag baie stories gehoor. Stories van mense se seer, hulle probleme. Stories oor verkeerde keuses en besluite. Stories van hoop, stories van wanhoop...

Gerhard se storie: Ek het geleer om eers te luister na ander, voordat ek iets oor hulle sê. My storie vertel van waar ek nie soos gewoonlik kwaad geword het vir die dronk man op die sypaadjie nie, maar tussen die lyne sy storie van hartseer en verlange gehoor het. En hoedat die bedelaar by die robot met die bord om die nek, ’n naam gekry het – Johan, wat probeer sorg vir sy klein dogtertjie.

Charmaine se storie: Ek kon nie help om deernis vir hierdie mense te voel nie.  Dernis vir die omstandighede waaruit hulle kom.  Deernis vir die een vrou (Sheryll) se struweling om haar kop omhoog te hou om haar seer vir die wêreld weg te steek - sy was self ‘n kinderhuiskind.  Sy sal eerder penne verkoop as om net vir geld te vra.

Andries se storie:  Vir my was dit nie so ʼn belewenis soos vir iemand wat nie gereeld met die mense kontak het nie. Vir baie jare het ek saam en met mense gewerk wat op straat staan en werk soek, en in ʼn sekere sin het dit my verhard. Ja die twee jong manne by Stead laan het my meer geraak as die ander. Ek sal maklik een van hulle gaan haal en ʼn geleentheid bied om weer sy voete te vind en sy eie besigheid te vestig. Maar weereens die vrae om te vra? Gaan hulle die deursettings vermoë hê want dit vat tussen 3 tot 5 jaar om ʼn besigheid te vestig.

Dirk se storie: Ons moet miskien begin besin oor die verskil tussen Armoede en Armoedige mense - want party armoedige mense is nie arm nie. Vir party word dit 'n lewensstyl wat hulle pas. Wat dan van ons Barmhartigheidstaak? Ek glo ons moet fokus daarop om hulle te help wat hulself wil help. Help die oues om hul laste te verlig, die siekes om vinniger weer op die been te kom en die kinders om 'n toekoms te hê. Kyk na die meriete van elke saak en help met die doel om 'n langtermyn verskil te maak: gee visstokke en onderrig in visvang eerder as net vis gee!

Daar is sekerlik baie wat ons nog hier kan byvoeg. Daar is soveel positiewe dinge wat ons gesien en beleef het – maar ook soveel negatiewe dinge. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: jy kan nie net OOR mense praat nie – jy moet MET hulle praat.

In die Kerk se barmhartigheidsopdrag is die bekamping van armoede nie ’n makro-ekonomiese vraagstuk nie. Dis ’n persoonlike vraagstuk, waar ons met mense werk. Mense – met name, nie net gesigte nie – aan wie ons Christus se liefde wil gaan bewys.

Want daar is nog ’n storie – die Groot Storie. Die storie van Jesus wat gemeng het met die straatmense van Sy tyd. Die storie van die Hoof van die kerk wat sy liggaam geroep het om sy werk in ons wêreld te doen. Mag ons in Sy voetspore volg!

Login With Facebook