Help iemand in nood

Jy kan vandag iemand help wat nood het. Hieronder is 'n aantal veilige metodes om 'n donasie te maak. Wees verseker dat dit gaan uitkom by die mense wat dit nodig het!

Readmore

Donasies

As jy die inligting op hierdie blad waardevol gevind het, maak asseblief 'n bydrae vir barmhartigheid.

SMS "ADV + jou naam" na 40156 om R20 te skenk (bv ADV Naam Van)

Jy kan ook 'n aanlyndonasie maak deur enige bedrag hieronder in te sleutel en te klik op 'Skenk':


Ons maak van MonsterPay gebruik vir aanlyndonasies. Kliek hier vir meer inligting.

Diakens deur die eeue

Diakens deur die eeue en oor die wêreld.

Ds Carusta van der Merwe

Die eerste diakens waarmee ons in die Bybel kennis maak, is in Handelinge 6:2, toe die apostels spesifieke mense aangewys het om in die fisiese behoeftes van die gemeenskap te voorsien. Teen die einde van die antieke era (ongeveer teen die derde eeu nC) het die diakens as die kerklike biskop se oë en ore in die gemeenskap gedien. Kerklike eiendom en administratiewe verpligtinge  was teen hierdie tyd ook die werk van die diakens.

Hierna was die Rooms-Katolieke kerk ’n ideale plek vir ’n diaken om professionele opgang te maak. Uit die 37 mans wat tussen 432 en 684 nC tot kerklike pous verkies is (ongeveer 1000 jaar voor die Reformasie), was 34 eers diakens gewees, nie priesters nie. Met verloop van tyd het die biskop se assistent – die aartsdiaken – ’n toenemende belangrike rol in die kerk begin speel. Hy sou hoofsaaklik vir die administrasie van die kerk en die versorging  van die armes verantwoordelik wees en het daarom beheer oor die kerk se geld uitgeoefen. Teen die agste eeu nC het die aartsdiaken ook ’n opsig-rol begin vervul – baie soos die rol van die hedendaagse ouderling – en die gewone diakens het spesifieke take tydens die erediens en veral die nagmaal vervul.

Calvyn het tydens die Reformasie die oorspronklike opdrag van die diakens – liefdesdiens aan veral siekes en armes – teruggeroep. In die meeste Gereformeerde kerke van Nederduitsche afkoms dien diakens as een van drie ampte op die kerkraad. ’n Unieke eienskap van menige Nederduitsche diakonaat oor die wêreld heen, is dat die diakonie in elke gemeente as ’n eie entiteit met eie fondse, apart van die gemeente en bestuur deur die diakens, funksioneer. Die begronding hiervoor is natuurlik sodat die diakonie ten alle tye in staat sal wees om mense in nood te kan bystaan.

In ander kerklike tradisies, soos die Uniting Church in Australia, funksioneer diakens ook as evangeliste wat gemeenskappe stig en met die Woord bedien. In die Church of Scotland staan diakens in opgeleide en betaalde posisies. Die permanente diakonaat was tot 1988 ’n amp uitsluitlik deur vroue vervul. Die Evangelies Lutherse Kerk in Amerika het steeds diakonale liggame vir vroue waar die diakens ’n sertifikaat na opleiding by ’n seminarium ontvang. In die hedendaagse Katolieke, Ortodokse en Anglikaanse kerke funksioneer diakens as assistente vir die priesters in beide die pastoraat en die administrasie van die gemeente. Diakens vervul ’n rol in die liturgie, verkondig die Evangelie, en lewer liefdesdiens aan die armes en uitgeworpenes.

Die amp van diaken het telkens in die geskiedenis, soos die meeste menslike instellings in die samelewing, geformaliseer en dan weer hervorm volgens Bybelse riglyne. Die basiese begronding vir diakens kom altyd weer terug na die versorging van weerlose mense. Wanneer mens ondersoek instel na die werksaamhede van diakens die wêreld oor is dit maklik om opgewonde te raak oor die ryk tradisie en wonderlike werk waaraan die NHKA se Diakens in hierdie wêreld deelneem – altyd in diens van die Evangelie.

 

Laai artikel af

'n Diaken met VIGS

Een van ons – ’n diaken met VIGS

Daar is soms nog ‘n stemmetjie in mens se agterkop wat fluister dat mense wat MIV kry iets gedoen het om dit te verdien.

Johan* is 50 jaar oud, vir 30 jaar gelukkig getroud, het drie volwasse kinders en is oupa van vier pragtige kleinkinders. Hy is ‘n meelewende lidmaat van ’n Hervormde Gemeente en dien as diaken. Johan leef nou al vir 19 jaar met VIGS. Net sy naaste familie en sy predikant weet.

Hoe het dit gevoel toe jy die eerste keer die uitslag kry?

Of ’n hamer my tussen my oë tref. In my onkunde het dit soos ’n doodsvonnis gevoel. Ek het vir ’n lewensversekeringspolis aansoek gedoen. Mens weet mos mense sterf van hierdie siekte en nou het ék dit? Onmoontlik. Niks kon my troos nie– ek gaan sterf terwyl ek nog nie reg was daarvoor nie. Ek wou nog my kinders sien grootword.

Hierna volg ’n tydperk van opstandigheid en worsteling met God, verwerping deur familielede, bevooroordeelde dokters, sielkundige en fisiese agteruitgang. Sy cd4-telling val tot onder die vlak waar MIV as VIGS geklassifiseer word. Vir die twee jaar wat Johan bedlêend was, praat sy vrou, dokter en dominee hom om die beurt moed in. Hulle baklei ook met hom wanneer dit nodig is. Hy probeer alles op die mark tot hy die regte medikasie kry wat hom sy eetlus terugbesorg en hom weer by sy volle positiewe laat funksioneer.

Vandag gaan dit baie goed. My cd4-telling is stabiel, ek kon my dogters in die kerk in begelei met hul troues, ek kan met my kleinkinders speel en ek kan weer motorfiets ry – ’n groot passie.

Jy is bang om vir mense te vertel dat jy MIV/VIGS het – hoekom?

Ek is ontsettend bang om mense van my siekte te vertel. Uit ervaring met my eie familie. Hy het vuil siekte... Onkunde maak mense bang en bang mense maak skade. Ek het gesien hoe iemand wie se siekte openbaar gemaak is, uitgewerk word by sy maatskappy, al het sy werk geensins onder sy siekte gely nie. By my vriende moet ek steeds op my tande kners wanneer die mans van die vuil siekte praat en grappe maak.

By ons gemeente weet mense dat ek siek is, maar hulle weet nie wat my makeer nie. Ek weet nie of die gebed en ondersteuning sal ophou as hulle uitvind nie. Ek glo darem nie so nie.

My gesin lewe hoeveel jaar met my en hulle is nog steeds gesond. Ja, mens moet versigtig wees as ek seerkry en bloei,  maar ‘n soen of ’n druk kan niks maak nie.

Jou werk as diaken is vir jou baie belangrik. Speel jou siektetoestand ooit ’n rol wanneer jy met barmhartigheidswerk besig is?

My werk as diaken  is die beste ding wat in my lewe kon gebeur het. Was dit nie vir my siekte nie, sou die behoefte om ’n verskil in ander se lewens te maak nie so groot gewees het nie. Ek kan my lewe, die siekte, alles wat gebeur het, gebruik om ander mense te help. Die hulp wat ek ontvang het het my menslikheid teruggebring. Ek kan ’n positiewe rol in iemand anders se lewe speel, want as God ’n doel met my lewe het, het God mos ’n doel met ander se lewens ook en ek kan hulle help om dit raak te sien en te vertrou.

Hoe sou jy mense aanraai om MIV/VIGS-lyers in hulle gemeente te hanteer?

Moet ons nie met handskoene hanteer nie. Weet julle wat beteken dit as iemand wat weet vir jou hallo sê en jou ’n drukkie gee? ’n Drukkie sit ‘n glimlag op die gesig en ‘n handdruk maak enige seer hart reg.God draai nie sy rug op mense nie – moenie jul rûe op ons draai nie.

 

Laai artikel af

My kind en dwelms? Nooit!

My kind en dwelms? Nooit...

Diaken Roy McEwan

 

Ons maak ons kinders so goed groot as wat ons kan. Ons gee hulle wat hulle nodig het en leer hulle wat reg en verkeerd is. Dis die ouers wat nie omgee wat van hulle kinders word nie, wie se kinders drank en dwelms gebruik. Nie my kind nie.

Volgens ‘n Hulpwerker by die Ondersteuningsraad (OSR) is daar onlangs by twee skole in Johannesburg toetse gedoen en veertien leerders het positief getoets vir onwettige middels en chemiese stowwe. Die ouers se reaksie: groot skok en verstomming.

Die dwelmprobleem in ons eie land, ons eie skole, word toenemend groter. Daar is verskeie redes hiervoor, soos armoede, gebroke huise of kinders wat wil ontvlug aan probleme in hulle lewens. Groepsdruk veroorsaak dat kinders al so jonk as sewe jaar begin dwelms uitprobeer.

Die dwelms wat die meeste gebruik word, is tabak, alkohol, voorskrif medikasie (pynmiddels, dieetpille), dagga, snuifmiddels (gom, aerosol sproeie, skoonmaakmiddels, verf), kokaïene, Ecstasy, TIK (chrystal meth of Cat), whoonga – ook genoem wunga of nyaope, LSD, heroïne en steroïdes. Die meeste dwelmgebruikers gebruik meer as een tipe middel.

Wees op die uitkyk. Elke dwelmmiddel manifesteer op ‘n unieke manier, maar hier is algemene tekens wat dwelmgebruik kan aandui:

  • Skielike gedragsveranderinge
  • Buierigheid (mood swings)
  • Neus is aanmekaar toe of loperig; snuif gedurig.
  • Persoon verloor belangstelling in aktiwiteite wat hy altyd geniet.
  • Slaappatroon verander.
  • Vergrote pupille; rooi en glaserige oë.
  • Onversorgde voorkoms.

By steroïdes:

  • Ongewone, skielike groei in spiervolume en krag.
  • Slegte buie
  • Aknee op rug en skouers

Selfs binne ons kerkgemeenskap is daar ‘n stigma wat kleef aan enigeen wat geïdentifiseer is as ‘n dwelmgebruiker. Ouers vrees om veroordeel te word om ooglopende redes. Dit is hier waar onderrig nodig word. Ons mense moet ons persepsies en vooroordele verander en uitreik na die families wat ons hulp nodig het. Ons mag nie oordeel nie.

Eerstens moet jy die persoon met die dwelmprobleem identifiseer. Jy hoef nie ver te gaan soek nie. Kyk met nuwe oë na die mense om jou, die mense in jou lewe. Dit kan in jou huis wees. Maak net jou oë oop.

As jy vermoed dat jou kind dwelms gebruik, kan jou huisdokter toetse doen om vas te stel watter middel hy gebruik. Soek dan professionele hulp vir jou kind. Praat met iemand wat jy kan vertrou. Jou predikant is opgelei en toegerus om jou na die beste professionele hulp te kan verwys.

Berei jouself voor op weerstand wanneer jy jou kind, sy maats of sy maats se ouers konfronteer. Weerstand kan gewaarborg word, maar die saadjie is geplant, die probleem word blootgelê en die herstelproses kan begin.

Die South African National Council on Alcoholism & Drug Dependence (SANCA) het ‘n nasionale inbelkliniek (086 14 72622 of 086 14 SANCA) met opgeleide personeel wat mense telefonies bystaan met raad en ondersteuning. Besoek hulle webwerf http://www.sancanational.org/index.php/database.html vir die naaste hulpsentrum aan jou.

Ons as ouers moet onsself vergewis van neigings en statistieke in ons skole. Ons moet ons kinders toerus met kennis van dwelms en die gevare daarvan. Hulle moet gewaarsku word. Hulle moet ondersteun word. ‘n Liefdevolle omgee-verhouding met jou kinders is net nog ‘n manier om dwelmafhanklikheid te keer, te keer dat dit onder die mat ingevee word, te keer dat die tekens nie raakgesien word nie...

Verslawing kan oorkom word.

 

Diaken Roy McEwan

Gerehabiliteerde verslaafde

Om my te kontak vir meer inligting oor dwelmmisbruik: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

Laai artikel af

Ons praat nie daaroor nie...

Ons praat liewer nie daaroor nie...

Elize Jones

As ons dit ignoreer gaan dit dalk weg. As ons grappe daaroor maak, kan ons ons distansieer daarvan. As ons dit onder die mat invee, gaan niemand dit raaksien nie. Dis makliker om nie met my kinders hieroor te praat nie, dit is so ongemaklik. Die skool of die kerk sal dit wel op ‘n stadium doen. Ek, kan in my gemaklike borrel voortleef terwyl ek die realiteite om my ignoreer.

Dit is werklik so dat dit onaangenaam is om te dink aan tienerdogters wat gesteel en verkoop word om  as prostitute te werk.

Dis ongemaklik om te dink aan iemand wat ‘n lewensgevaarlike, aansteeklike siekte het, veral as daar ‘n wanpersepsie bestaan dat dit slegs oordraagbaar is deur losbandigheid. Dit maak ‘n mens bang om te dink hy werk langs jou en deel die kombuis en badkamer met jou – wanneer steek jy aan?

Dit maak mens grillerig om te dink aan mense wat naalde in hulleself steek en goed snuif om hoog te raak, veral omdat dit vuil en slegte mense is.

Maar wat as dit my kind is? …my vrou is? …my boetie is?

Ons het lank genoeg die taboes in die lewe geïgnoreer. Ons het dit lank genoeg taboes genoem as gevolg van onkunde en vooroordele. Ons het dit lank genoeg vervlak tot lelike grappe.

Eers wanneer dit in jou huis ingesluip het soos ‘n dief in die nag, begin die onkunde plek maak vir kennis en vrae. En jy wonder hoekom jy nooit met jou kinders hieroor gepraat het nie. Jy is spyt dat jy nooit besef het dis nie slegte of vuil of grillerige mense wat dit oorkom nie. Dis net mense. Gewone mense soos ek en jy.

Die groot hartseer is dat mense deur hulle vriende en hulle families verwerp word omdat hulle onkundig en bang is vir hierdie taboe wat skielik te naby gekom het.  Hulle vergeet wat die liefdevolle voorbeeld is wat Jesus vir ons gestel het. Jesus het hierdie liefde geleef. Hy het niemand verwerp nie. Hy het juis vir sondaars gesterf. Jesus het aanvaar, liefgehê, versorg.

Kan ons nie maar ook, in die voetspore van Jesus, aanvaar, liefhê en versorg nie?

 

Laai artikel af

Diako-wat?

Diako-wat?

Diakens in die bybel.

Ds Carusta van der Merwe

 

Stefanus, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus.

Nee, nie dissipels nie. Diakens. Die eerstes.

Lukas vertel in Handelinge dat die getal gelowiges by die dag groter geword het. Nie net omdat die apostels die woord verkondig het nie, maar veral omdat hulle daarmee saam mense versorg het.

Die eerste gelowiges was “een van hart en siel”, “het alles met mekaar gedeel”, “uitgedeel volgens elkeen se behoefte” (Handelinge 2:44-45; 4:32-37; 6:1-6). Maar die werk het baie geword omdat die getalle so vinnig gegroei het, en mense het deur die krake begin val.

Die apostels het nie maar net hulle skouers opgetrek en gesê “ons kan bepaald nie almal help nie”. Hulle het gesê “ons het mense spesiaal hiervoor nodig want ons kom nie by almal uit nie”.

Stefanus, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus.

Die eerste amptelike diakonie. Want geloof in God was nie maar net een aspek van hulle lewe nie. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag; Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Hierdie diakens se geloofsdade het ander mense se lewens verander.

Nie net in koppe of harte nie.

In mense se fisiese dag-tot-dag bestaan.

Gelowiges het ander mense se lewens vir hulle beter gemaak.

Deur mense te versorg, kos te gee, gesond te maak, hoop te gee.

Dis wat kerk was.

Dis wat diaken was.

Is dit waar dat Hervormers dink ’n diaken se werk is om geld te kollekteer?

 

Laai artikel af

Sondag in die pastorie!

‘n Sondag in die pastorie …

Ds Marna van der Westhuizen

Wanneer ek dink aan kleuter-wees in die pastorie kan ek nie anders as om te glimlag nie. Vroeg-vroeg in die oggend het mamma al klassieke musiek gespeel. Pappa het kaasbroodjies gemaak. My ouers, en die gemeente, het geglo dat die pastoriegesin altyd die absolute toonbeeld van netheid en orde is…

Die drama het telkens begin wanneer my tomboy sussie haar frille en valle kerkrok moes aantrek. Sussie was nié ‘n frille en valle kleuter nie. My tiener ouboet was op daardie stadium amper uit die huis verban omdat hy denims wou dra. Dan praat ons nie eers oor ‘n kerkpak nie. Pa het maar stilgebly, so nou en dan gefoeter en ma was totaal en al getraumatiseer as ons in die kar klim. Ek het geblom in my frille en valle en my stil boetie het maar net sy mond gehou.

So het die pastoriegesin uiteindelik, ordelik en statig, in die kerk ingestap en op ons plek gaan sit.

Daar was niks so lekker as om op ma se skoot te slaap nie. Ma het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. My broers en suster wel. Hulle het denkbeeldige grense op die kerkbanke getrek en as ek die grense oorgesteek het, het ek ‘n hou gekry. Dus moes ek maar kiertsregop sit en probeer luister na pa se preek.  Oppad terug huis toe is ons uitgevra oor die preek.

Ek weet nou nog nie hoe het ma dit reggekry nie maar daar was altyd Sondae ‘n heerlike bord kookkos. Sondagmiddae was middagslapie tyd. En watter kind wil nou slaap? Daar het áltyd ‘n geveg uitgebreek. Ons kon dit net nie help nie.

Laatmiddag het die hele proses weer begin as die ‘statige en ordelike’ pastoriegesin moes aantrek om aanddiens toe te gaan. Sondagaande mag ek lekker onder die banke op die sagte mat geslaap het. Om menigmaal ‘n skop te kry…

My eie pastoriegesin? Dit gaan niks beter nie. Sondagoggende storm die van der Westhuizens, alles behalwe statig en ordelik, eers by die konsistorie in. Met doekesakke, karretjies en koekies. Pa Jannie besit nie ‘n das nie. Moina het al my sus se gene gekry.  Sy weier dat ek haar hare kam. Sy weier om ouma se frille en valle rokkies te dra. Sy haat skoene. Ouboet verpes langbroeke en kleinboet wat twee is, doen wat ouboet doen. Dikwels is ek sonder grimering omdat sus dit verwoes het.

Pappa en kroos gaan sit in die kerk. Vir so 5 minute. Totdat pa ‘DIE KYK’ vanaf die kansel kry. Dan die moederskamer waar al die arme babas ontwrig word. Eindig op in die konsistorie waar hulle so ‘n paar woorde van die preek hoor. Ek vra maar eerder nie uit oppad huis toe nie…

Sondagmidddae is ons gedaan. Die groot trek word net so op die vloer gegooi. Ons sluit die huis se deure en gaan slaap – die kroos moet maar afbreek. Pa vat later die kinders parkie toe terwyl ma opruim en probeer opskryf wat almal by die kerk vir dominee ma (met twee kleuters op die heupe) gesê het. Die kookkos? Dit bly maar slegs ‘n droom.

My herinneringe van Sondae by die kerk? Fantasties. Dit was die lekkerste plek ooit. Ons is omvou deur liefde en omgee. Ons kon Jesus se liefde ervaar. My kinders kan nie wag om Sondae by die kerk te kom nie. Dit is die plek waar hulle speel en lag. Waar hulle deur die ooms en tannies gedruk, gesoen en opgetel word. Dit is God se huis waar hulle Sy liefde ervaar. Dankie pappa en mamma vir hierdie wonderlike geskenk. Dat die kerk ook my tuiste kan wees, waar ek God se liefde ervaar.

Moet dit nooit van jou eie kind weerhou nie. Dit is die kosbaarste geskenk…

 

Laai artikel af

'n Kerk sonder...

Hoekom Diakens?

Elize Jones

Ek probeer my ‘n kerk sonder diakens voorstel.

Na kerk stap almal by die stil deure uit en gaan huis toe. Niemand wag vir ons daar met ‘n glimlag of ‘n mooi woord en ‘n kollektesakkie nie.

By die nagmaaltafel is daar niemand wat help bedien nie. Mense wat ver uitmekaar sit, is ongemaklik om te strek om die bord en die beker aan te gee.

‘n Man kom klop een dag hoed in die hand aan om hulp. Hy is werkloos en sy gesin ly honger. Dis baie moeilik om hulle skielik te help, want daar bestaan nie ‘n koskas by die kerk of iemand wat dit kan vol hou nie.

Iemand vra op die kerkraadsvergadering of die gemeente kan betrokke raak by die dorp se ouetehuis. Hulle het mense nodig wat elke kwartaal hulle weeklikse byeenkoms kan bywoon en help organiseer, of gereeld besoeke kan bring. Hulle het ook hulp met fondsinsameling nodig. Maar almal is reeds so besig by die kerk. Daar is nie regtig iemand wat tyd hiervoor kan maak nie.

‘n Groepie jongmense wil graag betrokke raak in die gemeente, maar die kerkraad bestaan uit ouer, wyser mense. Daar is nie ‘n plek waar hulle, sonder ervaring of ouderdom, met net hulle entoesiasme om te wys, kan dien in hierdie gemeente nie…

Ek kan my nie ‘n kerk sonder diakens voorstel nie.

In die vroeë kerk het die apostels gou agtergekom dat hulle iemand nodig het wat spesiaal daar moet wees om te versorg. Iemand moet na die weduwees en wese omsien. Iemand moet verantwoordelikheid vir barmhartigheid aanvaar. Mense met entoesiasme. Mense wat nie skrik vir werk nie. Mense wat uit liefde vir God en vir hulle naaste graag wil help.

In vandag se kerk is diakens broodnodig. Nie net by die kerk waar ons hulle sien nie, maar ook daar waar hulle byvoorbeeld kospakkies met omsigtigheid anoniem uitdeel sodat hulle die ontvangers se waardigheid kan beskerm.

Ons het êrens langs die pad vergeet dat barmhartigheid ‘n diaken se hooftaak is. En op ‘n manier het ons begin dink dat diakens se dóél is om offergawes te gaan insamel en kollekte te tel. Dit is ‘n groot taak van die Algemene Diakensvergadering om hierdie wanpersepsie uit die weg te ruim. En om die klem terug te skuif na barmhartigheid en liefde.

Diakens reik uit en raak aan. Hulle doen nie net welsynswerk nie – hulle help tesáme met verkondiging van die evangelie en liefde.

Ek wíl my nie ‘n kerk sonder diakens voorstel nie…

 

Laai artikel af

Nuus

Warm Brood

Scan die QR kode vir meer inligting met jou slimfoon rakende die Simposium oor Trauma

qr ubi caritas

Login With Facebook

Soek